Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning.
Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die mense by my het dit nie gesien nie. Tog was hulle so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het en ek alleen agtergebly het. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het ek magteloos en doodsbang geword en het ek geen krag meer gehad nie. Toe hoor ek die man praat, en terwyl ek hom nog hoor praat, het ek bewusteloos vooroor op die grond geval. Daarna het 'n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.”
Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.”
Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. Toe het iemand wat soos 'n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.”
Toe het hy wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!”
Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.”