HANDELINGE 13:1-12

HANDELINGE 13:1-12 AFR83

Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help. Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle 'n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy 'n profeet is. Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 13:1-12