Maar Elisa sê: “Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal 'n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.” Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!” Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en 'n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.” In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.” Hulle het by die stad aangekom en na die wagte geroep en vir hulle vertel: “Toe ons by die kamp van die Arameërs gekom het, was daar niemand te sien of te hoor nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente net soos hulle gelos is.” Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het. Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.”
Lees 2 KONINGS 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KONINGS 7:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's