Elisa het geantwoord: “Luister na hierdie boodskap van die HERE! Dis wat die HERE sê: ‘Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.’” Die adjudant, vertroueling van die koning, sê vir die man van God: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die HERE die vensters van die hemel oopmaak!” Maar Elisa antwoord hom: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!” Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?” vra hulle vir mekaar. “As ons die stad ingaan, sal ons sterf weens die hongersnood; en as ons hier bly, sal ons ook sterf. Ons kan maar netsowel oorgaan na die Arameërs se kamp toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons. As hulle ons doodmaak, dan is ons dood.” Skemerdonker gaan hulle na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kry hulle ’n groot verrassing: Daar was niemand nie! Die HERE het dit so bewerk dat die leër van Aram die gedreun van strydwaens, die galop van perde en die gedruis van ’n naderende leër gehoor het. “Die koning van Israel het seker die konings van die Hetiete en die Egiptenaars gehuur om ons aan te val!” roep hulle uit. Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe. Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.” Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.” Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis. In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’”
Lees 2 KONINGS 7
Luister na 2 KONINGS 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KONINGS 7:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's