1 TIMOTEUS 6:6-12

1 TIMOTEUS 6:6-12 AFR83

Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.