1 PETRUS 4:6-11

1 PETRUS 4:6-11 AFR83

Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe. Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.