1 KONINGS 19:4-8

1 KONINGS 19:4-8 AFR83

Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.