1 KONINGS 11:1-13

1 KONINGS 11:1-13 AFR83

Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.” Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak. Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het. Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien. Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid, sy pa, nie. Salomo het selfs op die berg teenoor Jerusalem 'n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Dieselfde ding het hy gedoen vir al sy uitlandse vrouens, sodat hulle wierook kon brand en offers kon bring vir hulle gode. Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie. Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee. Ter wille van jou vader Dawid sal Ek dit wel nie tydens jou lewe doen nie, maar Ek gaan dit tydens jou seun se lewe doen. Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”