1 KONINGS 10:1-9

1 KONINGS 10:1-9 AFR83

Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo en die Naam van die Here vertel word en sy het toe self gekom om Salomo met moeilike vrae te toets. Sy het na Jerusalem toe gekom met 'n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink, en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir die koning onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord. Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan. Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 KONINGS 10:1-9