1 KORINTIËRS 3:5-11

1 KORINTIËRS 3:5-11 AFR83

Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.