1 KORINTIËRS 11:18-34

1 KORINTIËRS 11:18-34 AFR83

Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook. Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan. As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie, want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder? Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Hieroor prys ek julle beslis nie! Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself. Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.