Sefanja 2
2
Wat is die Here se wil?
1Die boodskap van die Here aan die mense van Juda is dat hulle bymekaar moet kom en moet bid. Hulle is eintlik ’n nuttelose klomp mense sonder enige skaamte. 2Julle moet bymekaarkom voordat die Here julle sal straf soos Hy besluit het om te doen. Julle moet dit doen voordat sy woede julle tref en die tyd kom dat Hy julle soos kaf wegwaai omdat Hy kwaad is. 3Daar is van julle wat nederige mense is en graag doen wat reg is. Die beste ding wat julle kan doen, is om uit te vind wat die Here wil hê julle moet doen. As julle probeer om regverdig op te tree en nederig te bly, sal die Here julle miskien teen sy woede beskerm wanneer die tyd aanbreek dat Hy mense gaan straf.
Straf vir die Filistyne
4Die Filistynse stede Gasa, Askelon, Asdod en Ekron sal verwoes word en die inwoners uitgejaag word. 5Slegte dinge lê voor vir die Filistyne wat langs die see in die land Kanaän bly. Die Here het nie goeie dinge oor hulle te sê nie. Hy sê Hy gaan hierdie deel van die land waar die Filistyne bly, vernietig sodat dit onmoontlik vir mense sal wees om daar te bly. 6Die gedeelte langs die see sal ’n weiplek vir vee wees met hutte vir die veewagters om in te bly en krale vir die vee. 7Nadat die Here sy straf uitgedeel het, sal hierdie kusgedeelte die eiendom word van die mense van Juda wat sal oorbly. Hulle sal in die vlaktes langs die see bly en in die aand in die leë huise in Askelon slaap. Dit sal gebeur omdat die Here wat hulle God is vir hulle omgee en wil hê dat hulle in goeie omstandighede moet lewe.
Straf vir Israel se buurvolke
8Die Here sê dat Hy gehoor het hoe die mense van Moab en Ammon, Israel se bure, hulle slegsê en met hulle spot. En dan praat hulle ook nog groot oor hoe hulle Israel se grond gaan afvat. 9Die Here is Israel se God en alles in die wêreld behoort aan Hom. Hy sê, so waar as wat Hy leef, Hy sal Moab en Ammon verwoes soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. Oral in hierdie gebied sal daar brandnetels en brak kolle wees, ’n woeste en verlate plek waar mense nooit weer sal kan bly nie. Die mense van Juda wat die straf van die Here sal oorleef, sal hierdie volke beroof en hulle grondgebied oorvat. 10Al hierdie negatiewe dinge sal met Moab en die Ammoniete gebeur omdat hulle so arrogant is en so baie van hulleself dink. Hulle probeer Juda, wat die Here se volk is, belaglik maak. Hulle beledig sy mense. 11Hierdie mense sal benoud raak as hulle net aan die Here dink, want Hy laat al die gode van die wêreld in die niet verdwyn. Al wat ’n nasie is, in watter land hulle ook al is, sal Hom aanbid.
Straf vir Etiopië en Nineve
12Die Here sal ook die mense van Etiopië doodmaak. 13Die mense in die noordelike landstreke waar die land Assirië is, sal deeglik besef hoe magtig die Here is. Hy sal hulle hoofstad Nineve soos ’n woestyn maak waar daar nie water is nie en mense nie kan oorleef nie. 14Die stad sal ’n weiplek vir beeste en skape word en allerhande soorte wilde diere sal dit ’n lêplek maak. Uile sal in stukke van mure wat nog so half bly staan het, sit en hulle kenmerkende geluide maak. Bourommel sal in die deuringange lê en die deurrame van sederhout wat uit die kosyne uitgeruk is, sal daar rondlê. 15Dit is wat met hierdie stad en sy arrogante mense gaan gebeur. Hulle het gedink hulle is altyd so veilig binne-in die stad. Hulle het altyd gespog dat daar nie nog so ’n stad soos hulle s’n is nie. Maar die stad sal ’n plek word waar mense nie sal kan bly nie. Wilde diere sal dit hulle lêplek maak. As mense daar verbystap, sal hulle stom van verbasing wees. Hulle sal nie glo wat hulle met hulle eie oë sien nie.
Tans Gekies:
Sefanja 2: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.