Sagaria 3

3
Die vierde droom: die hoëpriester Jesua
1Die Here het my weer laat droom. Die droom was van die belangrike priester Jesua wat voor die engel van die Here staan. Regs van Jesua het Satan gestaan, die een wat hom aankla. Hy het vertel wat Jesua verkeerd gedoen het. 2Die Here het vir die aanklaer gesê: “Ek dink niks van wat jy nou sê nie. Ek het Jerusalem vir My gekies. Ek wil niks van jou weet nie! Jesua is onskuldig, hy is soos ’n stuk hout wat uit die vuur geruk is. Hy slaag die toets!”
3Jesua het met vuil klere aan voor die engel gestaan. 4Die engel sê toe vir die ander wat voor hom staan: “Trek sy vuil klere uit!” Daarna het die engel vir Jesua gesê: “Ek vergewe jou vir alles wat jy verkeerd gedoen het. Ek gee vir jou splinternuwe klere om aan te trek.” 5Toe het ek gesê: “Bind asseblief ook vir hom ’n skoon tulband om sy kop!” Hulle het toe ’n skoon tulband om sy kop gebind. Verder het hulle ook vir hom nuwe klere aangetrek terwyl die engel van die Here staan en kyk het. 6Daarna het die engel van die Here ernstig met Jesua gepraat en gesê: 7“Die Here wat oor alles en almal regeer, sê: As jy lewe soos Ek wil hê jy moet en presies doen wat Ek vra, sal jy die baas van die tempel in Jerusalem wees. Jy mag dan ook enige tyd in die deel van die tempel kom waar Ek is.
8“Hoor hier, Jesua, jy wat die hoëpriester is, en ook al die ander priesters wat by jou is, moet besef: mense sal na julle as leiers kyk en moed skep vir die toekoms. Binnekort gaan Ek iemand laat kom wat vir My sal werk. Hy is soos ’n jong tak van ’n boom; die toekomstige koning van Juda wat uit koning Dawid se familie kom. 9Ek sit ook ’n klip voor jou neer, Jesua. Hierdie klip sal sewe kante hê net soos ’n diamant wat so geslyp is. Ek gaan die volgende woorde op die klip uitkrap, sê die Here: ‘Op een enkele dag sal Ek al die verkeerde dinge wegvee wat die mense van Israel gedoen het.’ 10Wanneer dit gebeur, sê die Here, sal almal rus en vrede hê. Hulle sal in vrede saam met hulle bure kuier.”

Tans Gekies:

Sagaria 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid