Intussen het Boas na die bymekaarkomplek by die ingang van die dorp toe gegaan en daar gaan sit en wag. Toe Elimeleg se naaste familielid, die een oor wie Boas met Rut gepraat het, daar verbykom, het Boas hom geroep en gesê: “Vriend, kom sit hier by my; ek wil graag met jou praat.” Die man het toe nader gestap en gaan sit. Boas het ook tien leiers van die dorp gevra om as getuies by hulle te kom sit. Boas sê toe vir die familielid: “Toe Naomi van Moab af teruggekom het, het sy besluit om die stuk grond wat aan ons familielid Elimeleg behoort het, te verkoop. Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.”
Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.”
Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.”
Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.” In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil.
Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee.
Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het. Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.”
Die leiers en die ander mense wat by die ingang van die dorp bymekaar was, het toe gesê: “Ons is getuies! Mag die Here Rut seën met baie kinders soos dié van Jakob se twee vroue, Ragel en Lea. Mag jy ’n belangrike man wees in Efrata. En mag jy in Betlehem iemand wees na wie die mense opsien. Mag die Here vir jou kinders by hierdie jong vrou gee, wat net so baie en so gelukkig sal wees soos dié van ons voorvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”
Boas het toe met Rut getrou en nadat hy by haar geslaap het, het die Here haar swanger laat word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun. Die Here was baie goed vir haar. Toe sê die vroue vir Naomi: “Loof die Here! Hy het vandag vir jou ’n kleinseun gegee om vir jou te sorg. Mag sy naam altyd in Israel voortleef deur sy kinders. Jou skoondogter het jou baie lief. Sy het meer vir jou gedoen as wat sewe seuns ooit sou kon doen. Mag hierdie kleinseun wat sy nou vir jou gegee het, jou weer opgewonde oor die lewe maak omdat jy weet dat daar iemand sal wees wat vir jou sal sorg as jy die dag oud is.”
Naomi het hierdie kleinkind van haar met soveel liefde versorg asof hy haar eie kind was. Die buurvroue het toe gesê: “Uiteindelik het Naomi weer ’n seun!” Die kind se naam was Obed. Obed was Isai se pa en Dawid se oupa.
Van Peres af lyk hulle familie so: Peres was Gesron se pa. Gesron se seun was Ram en hy was die pa van Amminadab. Amminadab het ’n seun gehad met die naam Nagson en Nagson was die pa van Salmon. Salmon was Boas se pa en hy was weer Obed se pa. Obed was Isai se pa en Isai se seun was Dawid.