Romeine 9:9-21

Romeine 9:9-21 DB

Julle onthou mos nog hoe Hy vir Abraham gesê het: “Teen hierdie tyd volgende jaar sal Sara ’n seun hê.” Die belofte het kort daarna waar geword. Dit is egter nie al belofte van God wat in daardie tyd waar geword het nie. God het ook ’n ruk daarna uit ’n man (ek praat van ons almal se pa, Isak) vir Rebekka laat verwag. Toe haar kinders nog nie eens gebore was nie en nog nie kon goed doen of kwaad doen nie, is daar aan haar gesê: “Jou kind wat eerste gebore word, sal die een dien wat tweede gebore word.” So het God gewys dat sy besluit om vir Hom ’n volk uit te kies nie afhanklik is van enigiets wat ons doen nie. Nee, Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Daarom staan daar in die profeet Maleagi geskryf: “Ek het Jakob liefgehad. Ek het Esau gehaat.” Beteken dit nou dat God onregverdig is? Nee, glad nie! Hy het immers vir Moses gesê: “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.” God kyk nie eers na wat mense dink en doen voordat Hy besluit om hulle te red nie. Nee, God gee so baie vir mense om dat Hy Hom oor hulle ontferm sonder om hulle dade in ag te neem. Daarom het Hy vir die farao gesê: “Ek het jou ’n baie sterk koning gemaak om ’n bepaalde rede. Ek gaan vir jou wys hoe sterk Ek is. My Naam gaan ook deur jou oor die hele aarde bekendgemaak word.” Ons sien dus hieruit dat God genadig is oor wie Hy genadig wil wees. Hy maak ook daardie mense wat Hy wil verhard se hart so hard soos klip. Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?” Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie.

Video for Romeine 9:9-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor Romeine 9:9-21