Romeine 8:27-39

Romeine 8:27-39 DB

Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid. Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai. Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek. Wie kan dit nou nog waag om ons te veroordeel? Christus Jesus is mos aan ons kant. Hy is in ons plek dood. God het Hom ook weer lewendig gemaak. Christus het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig. Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie. Daar staan juis in een van die psalms: “Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.” Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet. Daarom is ek heeltemal seker dat niks wat met ons gebeur ons ooit van God se liefde kan skei nie. Nie eens die dood of enigiets in hierdie lewe nie. Ook nie slegte engele of ander bonatuurlike magte nie. Ook nie iets wat dalk vandag of môre met ons kan gebeur nie. Ook nie enige buitengewone kragte nie. Selfs nie die hoogste berg of die diepste see hier op die aarde nie. Letterlik niks in hierdie skepping kan ons ooit van God se liefde skei nie. Hy het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het toe ons Here, Christus Jesus, in ons plek doodgegaan het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid