Romeine 10:5-17

Romeine 10:5-17 DB

Moses skryf dat elkeen wat die wet streng onderhou op grond daarvan in die regte verhouding met God sal leef. Maar hy sê dat wanneer jy al jou vertroue in God stel om jou van jou sondes vry te spreek, dinge heeltemal anders verloop. As jy in God glo, weet jy dat Christus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie. Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo. Moses het immers al gesê: “God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo.” Ek maak hierdie goeie nuus oral bekend. En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos. Die Bybel sê immers: “Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.” Hierdie goeie nuus geld vir alle mense, vir Jode en ook vir nie-Jode. Die Here heers oor ons almal. Hy stort sy groot genade uit oor almal wat Hom om hulp vra. Elkeen wat uitroep: “Here, help my!” sal gered word, maak nie saak wie hy is nie. Jy kan nie die Here vra om jou te help as jy nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan jy weet wie Hy is as jy nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan mense van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.” Nie almal glo egter hierdie goeie nuus nie. Daarom het Jesaja op ’n dag gevra: “Here, wat help dit dat ons vir ander mense van U vertel? Hulle glo dit tog nie.” Nogtans moet die Woord van die Here bekendgemaak word. Mense kan net tot geloof kom as hulle die Woord hoor. Daarom maak ek die boodskap van Christus oral bekend sodat mense ’n kans kan kry om dit te hoor.

Video vir Romeine 10:5-17