Psalms 89:19-52

Psalms 89:19-52 DB

Die Here stel die koning aan om ons te beskerm. Hy behoort aan U. In ’n visioen het U vir u profeet oor hom gesê: “Ek het ’n held gehelp. En Ek eer hom. Dit is Dawid. Ek het hom gekies om koning te word, en hy dien My. Ek sal hom sterk maak en sterk hou. Sy vyande sal hom nie kan seermaak nie, en slegte mense sal hom nie kan uitoorlê nie. Ek sal daarvoor sorg, Ek sal sy vyande vermorsel. Dié wat hom haat, sal Ek self straf. Ek sal hom nie in die steek laat nie. Ek sal goed wees vir hom. Ek sal hom help om ’n ware wenner te wees. Sy mag sal uitbrei oor groot gebiede. Hy sal van My praat as sy Vader, sy God en die Een wat hom red en beskerm. Ek sal hom die koning oor al die konings maak. Ek sal hom eerste stel. Ek sal getrou bly aan hom en aan my ooreenkoms met hom dat Ek sy God sal wees. Sy kinders se kinders sal altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon so lank as wat die hemel bestaan. “As sy kinders egter nie doen wat Ek en my wet wil hê nie, sal Ek hulle straf. As hulle nie alles doen wat Ek vir hulle sê nie, sal Ek hulle laat swaarkry vir alles wat hulle verkeerd doen. Ek sal hulle baie seer slaan daarvoor. Maar dan sal Ek nie vir Dawid minder lief wees nie. Ek sal steeds getrou bly aan Hom. Ek sal ook nie my ooreenkoms met hom verbreek nie. Ek sal al my beloftes nakom. Ek het gesê Ek sal sy God wees, en dit sal Ek bly. Ek sal nie van plan verander nie. Sy kinders se kinders sal vir altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon. So sal dit wees, so lank as wat daar ’n son in die hemel is.” Maar U het tog kwaad geword vir die een wat U as koning aangestel het. U het hom nou alleen gelaat. U het u ooreenkoms met u dienaar opgehef en sy kroon in die stof laat val. Van sy huis en vestings is niks meer oor nie, net ’n hoop rommel. Hy word besteel deur elke Jan Rap en sy maat wat daar verbykom. Die mense rondom hom lag hom uit. Sy vyande het gewen. Hulle het van blydskap geskreeu. Hy kon nie meer ’n geveg wen nie. Sy wapens het ook nie meer gehelp nie. Hy het ’n niks geword. Sy koningskap en regering was daarmee heen. Sy troon is vernietig. Hy het voor sy tyd oud geword. Hy moes deur die lewe gaan met sy kop in skaamte gesak. Hoe lank sal U nog kwaad bly, o Here? Hoe lank nog sal U niks met hom te doen wil hê nie? Onthou, die lewe van die mense wat U gemaak het, is maar kort. Ons is almal mense wat doodgaan. Wie sal die dood kan vryspring? Wie kan homself van die dood red? Here, waar is u goedheid en liefde heen? U het tog beloof dat U altyd vir Dawid lief sal bly en goed vir hom sal wees. Here, dink asseblief aan die mense wat U dien. Kyk hoe sleg gaan dit met hulle en hoe skaam kry hulle voor die ander mense. Daardie mense wat ons so spot en skaam laat kry, is u vyande. Hulle spot die koning wat U self aangestel het.