Want aan die HERE
behoort ons skild,
aan die •Heilige van Israel
behoort ons koning.
U het destyds in 'n visioen
'n belofte gemaak
aan u getroue volgelinge.
U het gesê:
“Ek het hulp verleen aan 'n held,
Ek het 'n jong man uit die volk verhoog.
Ek het Dawid, my dienskneg, gevind;
met my heilige olie het Ek hom gesalf,
hom by wie my hand
bestendig sal wees;
ja, my arm sal hom sterk maak.
Vyande sal hom nie onverhoeds
betrap nie,
en skurke sal hom nie verdruk nie.
Sy teenstanders sal Ek
voor hom verpletter,
en sy haters sal Ek platslaan.
My getrouheid en troue liefde
sal met hom wees,
en in my Naam sal hy sterk word.
Ek sal sy hand op die see lê,
op die riviere sy regterhand.
Hy, hy sal my aanroep,
‘U is my Vader, my God,
en die rots wat my verlos.’
Ek sal hom dan •eersgeborene maak,
die hoogste van die konings
van die aarde.
Vir altyd sal Ek vir hom
my troue liefde handhaaf;
en my verbond sal bestendig
wees vir hom.
Ek sal sy nageslag vir altyd vestig,
en sy troon,
solank as die hemel bestaan.
“As sy seuns van my wet afwyk,
volgens my beslissings nie leef nie;
as hulle my vaste voorskrifte
ontheilig,
my bevele nie nakom nie,
sal Ek hulle oortreding
met slae straf
en hulle sondeskuld met houe.
Maar my troue liefde
sal Ek nie aan hom onttrek nie,
en Ek sal nie my trou verloën nie.
Ek sal my verbond nie skend nie
en wat oor my lippe gegaan het,
nie verander nie.
Vir eens en vir altyd het Ek
by my heiligheid gesweer;
Ek sal nie vir Dawid lieg nie:
Sy nageslag sal altyd daar wees
en sy troon soos die son voor My,
soos die maan wat altyd standhou –
'n betroubare getuie
aan die hemelruim.” •Sela
Maar U self het hom verstoot
en verwerp,
U was woedend vir u gesalfde.
U het die verbond
met u dienskneg opgehef,
sy kroon tot in die grond ontheilig.
U het al sy skermmure afgebreek,
van sy versterkte stede ruïnes gemaak.
Almal wat daar verbygaan,
het hom geplunder;
hy het 'n bespotting geword vir sy bure.
U het die regterhand
van sy teenstanders hoog gelig.
U het al sy vyande bly gemaak.
U, o Rots, het ook sy swaard
teen hom gedraai;
U het hom nie staande gehou
in die stryd nie.
U het sy glans laat verdof
en sy troon, dié het U
teen die grond gegooi.
U het die dae van sy jeug kortgeknip,
hom in skaamte gehul. Sela
Hoe lank nog, HERE?
Gaan U Uself vir ewig verberg,
sal u woede soos 'n vuur bly brand?
Dink daaraan –
wat is my lewensduur?
Om watter sinlose rede het U
alle mensekinders geskape?
Watter jong man leef
en sien nie die dood nie;
wie kan sy lewe aan die mag
van die •doderyk laat ontkom? Sela
Waar is u troue liefde
van vroeër, my Heer,
wat U in u trou met 'n eed
beloof het aan Dawid?
My Heer, dink aan
die bespotting van u diensknegte
wat ek teen my bors dra;
dink aan al die baie volke
wat die spot dryf –
aan u vyande, HERE,
wat die spot dryf met u gesalfde
waar hy ook al gaan.