Psalms 78:1-72

Psalms 78:1-72 DB

My vriende, luister nou baie mooi wat ek vir julle wil sê. Ek gaan julle leer. Maak julle ore oop sodat julle goed kan hoor! Ek wil ’n belangrike verhaal aan julle vertel, iets wat lank terug gebeur het en ’n mens nou nog laat wonder. Dis ’n verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken. Daarom vertel ons dit vir die jong geslag, sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het. Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het. Hy het vir Jakob gesê hoe om te leef en aan Israel sy wet gegee. Die Here het ons oupas en oumas beveel om dit alles vir hulle kinders te vertel. Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem. Niemand mag ooit vergeet wat God gedoen het nie. So sal hulle leer om ook op God te vertrou. Hulle sal doen wat Hy sê. Mag die Here gee dat die jong geslag nooit soos hulle oupas en oumas sal maak nie. Dié het mos die rug vir die Here gedraai, ’n regte spul hardekoppe; daarom het hulle geweier om te doen wat Hy sê. Hulle was ontrou aan God. Ons verhaal begin by die Efraimiete: ’n klomp soldate wat baie goed kon veg. Maar toe die oorlog begin, het hulle weggehardloop. Want hulle het nie na God geluister nie. Hulle het nie die voorwaardes van sy ooreenkoms gehoorsaam nie. Hulle het gou vergeet watter groot dade God voor hulle oë gedoen het. Die Here het groot wonders voor hulle ouers se oë laat gebeur daar in Egipte, in die veld van Soan. Die Here het die see voor hulle laat oopgaan sodat hulle daardeur kon stap. Hy het die water daardie dag soos ’n muur laat opdam. Bedags het Hy ’n wolk gestuur om hulle te lei. En snags was daar ’n bol vuur in die lug om hulle op die regte pad te hou. Daar in die woestyn het God rotse oopgebreek en hulle dors weggevat deur vir hulle strome water uit die rots te gee om te drink. Strome, nee, riviere vol water het uit die rotse geloop. Nogtans het hulle aangehou om verkeerde dinge te doen. Daar in die woestyn het hulle geweier om na die Allerhoogste te luister. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het God baie kwaad gemaak, want hulle wou allerhande luukshede by Hom hê; net die beste kos was vir hulle genoeg. Soos bedorwe kinders het hulle gesê: “Hoekom dek God nie vir ons ’n feesmaal hier in die woestyn nie? Hy kan mos ’n rots slaan dat jy net water sien spuit. Riviere kom mos uit rotse. Vir wat hou Hy dan nie ’n groot feesmaal vir sy volk met lekker brood en skottels vol vleis nie?” Die Here was baie kwaad toe Hy hoor wat hulle sê. Sy woede het soos ’n vuur op Jakob afgekom, soos ’n orkaan op Israel, want hulle wou nie in God glo nie. Hulle het nie op sy hulp staatgemaak nie. Gelukkig is God ’n goeie God; daarom het Hy sy volk gehelp. Hy het vir die wolke gesê: “Gaan oop!” Hy het die deure van die hemel oopgemaak. Hy het arms vol kos op hulle laat neerreën uit die hemel: manna, hemelse brood! Skielik het gewone mense dieselfde kos as engele in die hemel geëet. Elke dag was daar oorgenoeg kos vir almal. God het dit gestuur. Hy het ook die oostewind laat opkom en met die suidewind gepraat, toe val daar skielik voëls soos stof uit die lug op hulle af, ’n oorvloed vleis, so baie soos die sand van die see. Boonop het God hierdie voëls bo-op die volk se staanplek laat val, sommer tussen hulle tente. Die mense kon hulle honger heerlik stil. Daar was meer as genoeg vir elkeen. Hulle kon meer as genoeg eet. Maar hulle was nog nie tevrede nie. Hulle was gulsig. Hulle wou nog meer hê, selfs met hulle mond propvol kos! Toe het God kwaad geword vir hulle, Hy het die sterkstes onder hulle laat doodgaan. Al die jongmans van Israel het omgekom. Die volk het aangehou om verkeerde dinge te doen. Hulle het hulle net mooi niks aan God se wonders gesteur nie. Daarom dat God hulle lewe in die sand laat wegsyfer het. Hulle het vergaan. Elke keer as God hulle gestraf het, het hulle gou om genade kom smeek. Hulle het Hom gesoek en na Hom toe gedraai. Dan was hulle vinnig om te sê: “Ons kom kruip weg by God; die Allerhoogste is ons Redder.” Hulle het mooi woorde vir God gesê, maar niks daarmee bedoel nie. Hulle het kliphard gelieg! Hulle hart was ver van Hom af, hulle woorde en dade ook! Hulle het nie hulle ooreenkoms met Hom gehou nie. Gelukkig kry God mense jammer, Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie. Keer op keer vat God die straf weg wat Hy op mense wil loslaat, Hy hou gou op om vir mense kwaad te wees. God het onthou dat sy volk doodgewone mense is. Hulle is soos ’n wind wat ’n rukkie waai en dan verdwyn. Baiekeer het Israel in die woestyn gemaak of hulle God glad nie ken nie. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het Hom kwaad gemaak. Hulle het Hom hartseer gemaak. Oor en oor het hulle God se geduld beproef. Hulle het Israel se heilige God in die gesig gevat! Hulle het gou-gou vergeet dat Hy hulle gered het toe hulle vyande hulle wou doodmaak, en watter wonders Hy in Egipte gedoen het, daar in die veld van Soan. Hy het riviere in bloed verander, g’n mens kon daarvan drink nie. Hy het steekvlieë gestuur om die mense uitmekaar te steek. Hy het paddas gestuur om alles te verwoes. Hy het sprinkane die Egiptenaars se oeste laat opvreet. Hy het hael al hulle wingerde laat stukkend slaan, kwaai ryp het hulle vrugtebome laat doodgaan. Hy het hael op hulle diere laat neerreën en swaar donderweer op hulle vee. God se woede het Egipte hard getref. Sy woede het soos ’n vuur gebrand, ’n wavrag vol onheil het Hy op hulle losgelaat. Hy was woedend vir hulle. Boodskappers van die dood het hulle getref. Pes en siekte was hulle voorland. Al die oudste seuns in die huise in Egipte het Hy doodgemaak, al die oudste kinders wat van Gam afstam. Maar die Here het sy eie volk laat wegtrek. Soos ’n goeie skaapwagter het Hy hulle deur die woestyn gelei. Hy het sy volk goed opgepas sodat hulle nie bang was nie. Al hulle vyande het in die see verdrink. Hy het sy volk na die land toe gebring wat Hy vir hulle uitgesoek het, na die bergland wat die Here self gekies het. Hy het self hierdie gebied vir hulle verower. Ander volke het Hy voor hulle weggejaag, sodat hulle die land gekry het wat God vir hulle gekies het. Daar het al die stamme van Israel ’n blyplek gekry, waar die ander nasies eens gebly het. Maar die Israeliete het geweier om na God te luister. Hulle het teen Hom gerebelleer. Hulle het die Allerhoogste se voorskrifte die een na die ander verwerp. Hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie, presies soos hulle ouers. Die hele spul was totaal onbetroubaar! Hulle het God se geduld getoets deur tot ander gode te bid en Hom kwaad gemaak toe hulle voor beelde wat uitgekerf is, gebuig het. Toe God sien wat aangaan, het Hy baie kwaad geword. Net daar het Hy sy rug vir Israel gedraai. Die tabernakel in Silo waar die volk gebid het, het Hy verwerp. Vroeër het Hy hier gebly. God het sy volk oorgegee in die hand van hulle vyande, want hulle het sy groot Naam vertrap. Hy het hulle uit die land weggejaag. Hy het toegelaat dat ander mense sy volk doodmaak, met sy eiendom wou Hy niks te doen hê nie. Jongmans het in die vuur doodgebrand. Later was daar niemand meer oor om met die meisies te trou nie. Selfs die priesters is in die oorlog doodgemaak. Hulle weduwees het nie eens ’n kans gehad om oor hulle te huil nie. Toe, skielik, het die Here weer op die toneel verskyn! Dit was of Hy uit ’n diep slaap wakker geword het soos iemand wat in ’n roes was na hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande met ’n ystervuis getref, hulle onderstebo geloop. So erg het hulle nog nooit verloor nie. Die Here het nie die stam van Josef as leier gekies nie, ook nie die stam van Efraim nie. Sy keuse het op Juda geval. Die Sionsberg waarvoor Hy so lief is, was sy keuse. Daar het God sy heilige plek gebou. Dit het bo alles uitgetroon, vas en stewig. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom tussen die skape gaan uithaal. Die Here het hom gaan haal daar tussen die jong skape om sy volk Jakob op te pas en sy hand oor Israel te hou. Dawid was ’n goeie herder. Hy het hulle goed gelei en met liefde versorg.