Psalms 68:5-11

Psalms 68:5-11 DB

Kom sing ’n nuwe lied om God groot te maak, eer Hom met julle lied. Sing ’n pad van lof en vreugde oop voor Hom wat bo die wolke uittroon, jubel opgewonde oor Hom. Sy Naam is die Here, niemand anders nie! God is ’n Vader vir swak mense, vir kinders wat nie ouers het nie. Hy staan aan die kant van hulpelose weduwees. Hy beskerm hulle. Daar uit sy hemelse woning wat eenkant is, steek God sy hand uit na swak mense. God tel eensames op en maak hulle deel van ’n familie, Hy sluit tronkdeure vir gevangenes oop, maar laat al sy vyande diep in ’n woestyn bly. God, daardie dag toe U u volk in Egipte gaan haal het, toe U ’n pad deur die woestyn oopgestap het, het die aarde gebewe van vrees, die hemel het strome water voor U uitgegiet. Dit alles het daar by Sinai gebeur voor U, o God; daar het alles en almal voor Israel se God gebewe! God, U het die hemel geskeur, stortreën het oor die aarde uitgesak, ’n droë land het skielik weer begin leef. U het vir u eie mense ’n blyplek gegee. God, U is so ontsettend goed; daarom gee U vir swak mense net die allerbeste, u hulpelose volk kry selfs ’n eie land.

Video vir Psalms 68:5-11