Psalms 147:1-20

Psalms 147:1-20 DB

Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê. Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op. In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur. Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring. Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is. Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal. Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Die Here help die mense wat hulp nodig het. Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie, moet weet dat daar groot probleme op hulle wag. Kom sing ’n lied om vir die Here dankie te sê. Sing vir ons God ’n lied met musiekinstrumente. Dit is Hy wat die wolke in die hemel laat opsteek. Hy bring die reën en laat die gras op die berge groei. Hy gee weiding aan die diere en kos vir die jong kraaie as hulle honger is. Die prestasies van ’n mens en die krag van ’n dier maak nie indruk op die Here nie. Die krag van bomme, die prestasies van geleerdes of die geheue van die slimmes beïndruk die Here nie. Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid. Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet. In Israel was daar baie redes waarom God se kinders Hom kon prys. Lank terug het sy kinders al gesê: Mense van Jerusalem, kom prys die Here. Gelowiges wat op die Sionsberg bly, kom sê dankie vir julle God. Hy het die stad beskerm. Hy het almal versorg wat binne-in die stad was. Hy sorg vir vrede onder julle. Hy gee vir almal meer as genoeg van die beste kos. Wanneer Hy iemand vra om iets te doen, word dit vinnig gedoen. Die sneeu wat Hy gee, is spierwit. Hy strooi die ryp egalig uit. Wanneer dit hael, lyk dit soos stukke ys wat iemand uit die hemel afgooi. Niemand kan oorleef in die ysige koue wat Hy gee nie. Hy hoef net ’n woord te sê, dan smelt al die ys weg. Wanneer Hy ’n warm wind daaroor laat waai, smelt dit sodat jy net water sien loop. Wat Hy wou hê Israel moes doen, het Hy vir hulle gesê. Vir Israel het Hy dinge gedoen wat Hy vir geen ander volk gedoen het nie. Die ander volke het ook nie sy wil geken nie. Kom prys die Here!