PSALMS 147:1-20

PSALMS 147:1-20 Die Boodskap (DB)

Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê. Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op. In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur. Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring. Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is. Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal. Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Die Here help die mense wat hulp nodig het. Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie, moet weet dat daar groot probleme op hulle wag. Kom sing ’n lied om vir die Here dankie te sê. Sing vir ons God ’n lied met musiekinstrumente. Dit is Hy wat die wolke in die hemel laat opsteek. Hy bring die reën en laat die gras op die berge groei. Hy gee weiding aan die diere en kos vir die jong kraaie as hulle honger is. Die prestasies van ’n mens en die krag van ’n dier maak nie indruk op die Here nie. Die krag van bomme, die prestasies van geleerdes of die geheue van die slimmes beïndruk die Here nie. Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid. Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet. In Israel was daar baie redes waarom God se kinders Hom kon prys. Lank terug het sy kinders al gesê: Mense van Jerusalem, kom prys die Here. Gelowiges wat op die Sionsberg bly, kom sê dankie vir julle God. Hy het die stad beskerm. Hy het almal versorg wat binne-in die stad was. Hy sorg vir vrede onder julle. Hy gee vir almal meer as genoeg van die beste kos. Wanneer Hy iemand vra om iets te doen, word dit vinnig gedoen. Die sneeu wat Hy gee, is spierwit. Hy strooi die ryp egalig uit. Wanneer dit hael, lyk dit soos stukke ys wat iemand uit die hemel afgooi. Niemand kan oorleef in die ysige koue wat Hy gee nie. Hy hoef net ’n woord te sê, dan smelt al die ys weg. Wanneer Hy ’n warm wind daaroor laat waai, smelt dit sodat jy net water sien loop. Wat Hy wou hê Israel moes doen, het Hy vir hulle gesê. Vir Israel het Hy dinge gedoen wat Hy vir geen ander volk gedoen het nie. Die ander volke het ook nie sy wil geken nie. Kom prys die Here!

PSALMS 147:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet die Here prys! Want dit is goed om vir ons God te sing, ja, dit is lekker en dit is reg om Hom te prys. Dit is die Here wat Jerusalem weer bou, dit is Hy wat die mense bymekaarbring wat gevangenes is in ander lande. Dit is Hy wat mense gesond maak, mense wat baie moedeloos is, dit is Hy wat hulle seerplekke toedraai. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar moet wees, en Hy ken elke ster se naam. Ons Here is groot en baie sterk, 'n mens kan nie sy wysheid meet nie. Dit is die Here wat mense optel, die mense wat hulleself nie kan help nie, dit is Hy wat mense op die grond gooi, die mense wat verkeerd lewe. Julle moet sing en vir die Here dankie sê, julle moet vir ons God musiek maak op die lier. Dit is Hy wat die lug met wolke toemaak, Hy wat die reën vir die aarde gereedmaak, Hy wat die gras op die berge laat groei. Dit is Hy wat vir die diere hulle kos gee, en ook vir die kraaie se kuikens wanneer hulle skree. Sterk perde of vinnige manne is nie belangrik vir die Here nie, maar Hy hou van mense wat Hom dien, mense wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Mense van Jerusalem, julle moet die Here prys, mense van Sion, julle moet julle God prys, want Hy maak die sluitbalke van julle poorte sterk, Hy seën julle wat in die stad woon. Dit is Hy wat dit goed laat gaan in julle land en wat vir julle die beste koring gee om te eet, meer as genoeg. Dit is Hy wat 'n boodskap na die aarde stuur, en sy boodskap kom vinnig daar. Dit is Hy wat die sneeu gee, wit soos wol, Hy laat die ryp soos as op die grond lê. Dit is Hy wat die hael laat val, fyn soos krummels. Niemand kan die koue keer wat Hy stuur nie. Wanneer Hy dit sê, dan smelt die hael en die sneeu, wanneer Hy die wind laat waai, dan vloei die water. Dit is Hy wat vir Jakob sy boodskap stuur, dit is Hy wat vir die mense van Israel sê wat sy wette en besluite is. Hy het dit nie vir 'n ander volk gedoen nie, hulle weet nie wat Hy besluit nie.

PSALMS 147:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

LOOF die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas! Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep. Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. O Jerusalem, prys die HERE! O Sion, loof jou God! Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring, wat sy bevel na die aarde stuur — sy woord loop baie vinnig. Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke — wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai — die waters loop. Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!

PSALMS 147:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is 'n genot om die loflied te sing wat Hom toekom. Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou, wat die verstrooides van Israel bymekaarbring. Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen 'n naam. Ons Here is groot en magtig, sy kennis is onbegrens. Die Here laat die hulpeloses weer opstaan, maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond. Sing vir die Here 'n danklied, sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier. Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit. Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu. Die Here het niks aan die krag van 'n perd of die liggaamskrag van 'n soldaat nie, maar Hy stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hulle hoop vestig op sy trou. Loof die Here, Jerusalem, prys jou God, Sion! Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, jou inwoners geseën, Hy het in jou grondgebied vrede gegee, jou met die beste graan gevoed. As Hy die aarde 'n bevel gee, word dit vinnig uitgevoer. Hy gee sneeu so wit soos wol, Hy strooi ryp uit soos as, Hy laat dit haelstene reën. Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur? Maar op sy bevel smelt alles weer; as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters. Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie.

PSALMS 147:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Halleluja! Ja, dit is goed om ons God te besing, ja, dit is aangenaam – 'n loflied is gepas. Die HERE herbou Jerusalem, die verstrooides van Israel maak Hy bymekaar. Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind; wat die getal van die sterre bepaal, aan hulle almal name gee. Ons Heer is groot en geweldig sterk; aan sy insig is daar geen grens nie. Die HERE help die verdruktes op; goddeloses verneder Hy tot in die grond. Sing vir die HERE 'n danklied; besing ons God met begeleiding van liere, vir Hom wat die hemel bedek met wolke, wat vir die aarde reën gereedmaak, gras op die berge laat groei, wat vir die diere hulle kos gee, vir die jong kraaie wat krys. Dit is nie die krag van 'n perd, waaroor Hy Hom verheug nie, nie die bene van 'n man, waarin Hy vreugde vind nie. Die HERE vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy troue liefde. Roem die HERE, Jerusalem, loof jou God, Sion, want Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, Hy het jou kinders in jou geseën, Hy wat jou grense veilig stel. Met die vetste koring versadig Hy jou, Hy wat sy bevel na die aarde stuur – sy woord beweeg vinnig – Hy wat sneeu gee soos wol, ysryp soos as uitstrooi, wat sy ys soos krummels afgooi. Wie kan voor sy koue standhou? Hy stuur sy woord en laat dit smelt; Hy laat sy wind waai en water begin vloei. Hy maak sy woorde aan Jakob bekend, sy vaste voorskrifte en wette aan Israel. Hy het nie so opgetree teenoor enige ander nasie nie; sy wette ken hulle nie.

PSALMS 147:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Prys die HERE, want dit is goed om tot eer van onse God te sing; want dit is aangenaam; en lof is lieflik. Die HERE bou Jerusalem op, Hy versamel die verdryftes van Israel. Hy genees die wat gebroke is van hart en verbind hulle wonde. Hy vertel die getal van die sterre; hy noem hulle almal op hulle name. Groot is onse HERE en van groot krag: sy verstand is oneindig. Die HERE verhef die sagmoediges, Hy werp die goddelose op die grond neer. Sing tot eer van die HERE met danksegging; sing tot eer van onse God op die siter. Wat die hemel met wolke bedek, wat reën vir die aarde berei, wat gras op die berge laat groei. Hy gee aan die dier sy voedsel en aan die jong kraaie wat huil. Hy het geen behae in die krag van die perd nie; hy het geen behae in die bene van 'n man nie. Die HERE het 'n welbehae in die wat Hom vrees, in die wat op sy goedertierenheid hoop. Loof die HERE, o Jerusalem! loof u God, o Sion! Want Hy het die grendels van u poorte versterk; Hy het jou kinders in jou geseën. Hy maak vrede in jou grondgebied en vul jou met die beste van die koring. Hy stuur sy gebod op die aarde; sy woord loop baie vinnig. Hy gee sneeu soos wol, hy strooi ryp soos as. Hy gooi sy ys soos stukkies uit; wie kan voor sy koue standhou? Hy stuur sy woord en smelt hulle; Hy laat sy wind waai en die waters vloei. Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy insettinge en sy verordeninge aan Israel. So het Hy met geen nasie gedoen nie, en wat sy oordele betref, hulle het dit nie geken nie. Prys die HERE.

PSALMS 147:1-20 Die Boodskap (DB)

Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê. Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op. In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur. Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring. Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is. Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal. Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Die Here help die mense wat hulp nodig het. Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie, moet weet dat daar groot probleme op hulle wag. Kom sing ’n lied om vir die Here dankie te sê. Sing vir ons God ’n lied met musiekinstrumente. Dit is Hy wat die wolke in die hemel laat opsteek. Hy bring die reën en laat die gras op die berge groei. Hy gee weiding aan die diere en kos vir die jong kraaie as hulle honger is. Die prestasies van ’n mens en die krag van ’n dier maak nie indruk op die Here nie. Die krag van bomme, die prestasies van geleerdes of die geheue van die slimmes beïndruk die Here nie. Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid. Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet. In Israel was daar baie redes waarom God se kinders Hom kon prys. Lank terug het sy kinders al gesê: Mense van Jerusalem, kom prys die Here. Gelowiges wat op die Sionsberg bly, kom sê dankie vir julle God. Hy het die stad beskerm. Hy het almal versorg wat binne-in die stad was. Hy sorg vir vrede onder julle. Hy gee vir almal meer as genoeg van die beste kos. Wanneer Hy iemand vra om iets te doen, word dit vinnig gedoen. Die sneeu wat Hy gee, is spierwit. Hy strooi die ryp egalig uit. Wanneer dit hael, lyk dit soos stukke ys wat iemand uit die hemel afgooi. Niemand kan oorleef in die ysige koue wat Hy gee nie. Hy hoef net ’n woord te sê, dan smelt al die ys weg. Wanneer Hy ’n warm wind daaroor laat waai, smelt dit sodat jy net water sien loop. Wat Hy wou hê Israel moes doen, het Hy vir hulle gesê. Vir Israel het Hy dinge gedoen wat Hy vir geen ander volk gedoen het nie. Die ander volke het ook nie sy wil geken nie. Kom prys die Here!

PSALMS 147:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Prys die HERE! Want dis goed om ons God te prys. Dis ’n vreugde en ’n genot om Hom te prys. Die HERE herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel. Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde. Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam. Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie. Die HERE ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond. Sing ’n danklied aan die HERE; sing lofliedere vir ons God met begeleiding van die harp. Hy oordek die hemel met wolke, Hy verskaf reën vir die aarde en laat gras groei op die berghellings. Hy voed die wilde diere, en die jong kraaie wat skree vir kos. Die krag van ’n oorlogsperd beïndruk Hom nie; met die ratsheid van ’n krygsman neem Hy nie genoeë nie. Die HERE verheug Hom in hulle wat Hom dien, in dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde. Prys die HERE, Jerusalem! Prys jou God, Sion! Want die sluitbalke van jou poorte het Hy versterk, en jou kinders geseën. Hy gee vrede oor jou grondgebied, versadig jou met die beste graan. Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei. Hy stuur die sneeu, wit soos wol; Hy strooi ryp uit soos as, laat haelstene val soos broodkrummels. Wie kan standhou teen sy koue? Dan, op sy bevel, smelt alles weer. Hy laat sy winde waai, en die water loop. Hy maak sy woord bekend aan Jakob, aan Israel sy voorskrifte en gebooie. Vir geen ander nasie het Hy dit gedoen nie; sy bepalings ken hulle nie. Prys die HERE!