Psalms 118:19-29

Psalms 118:19-29 DB

Laat ek in die kerk ingaan vir die Here dankie sê en Hom aanbid, want Hy doen wat reg is. Ek wil kerk toe gaan. Ek wil vir die Here baie dankie sê. Daar voel ek naby Hom. Dankie dat U my gehelp het. U het my gered. U het gehoor toe ek na U geroep het. Soms dink mense dat iemand sommer niks is nie. Maar by God is dit anders. Wat soms vir mense onbelangrik is, is vir die Here belangrik. Dit is vir ons goed om dit te weet. Dit is die Here wat dit doen, en dit lyk vir ons na ’n wonderwerk. So ’n dag is baie besonders. Ons sal bly daaroor sing. Ag, Here, help ons asseblief. Luister, Here, maak ons tog gelukkig. Dit gaan goed met elkeen wat kom om die Here te dien. Julle wat die Here dien, sal baie gelukkig wees. Die Here is die enigste God. Hy help altyd. As Hy jou help, is dit soos ’n lig wat in ’n donker kamer inskyn. Kom ons hou ’n groot fees, want ons is baie bly. Ons moet vir Hom baie, baie dankie sê. Here, U is my God. Ek wil vir U dankie sê. O my God, ek wil u Naam grootmaak en prys. Kom prys die Here, want Hy is goed. Sy liefde sal nooit ophou nie. Daarvan kan jy seker wees.