Spreuke 16:1-26

Spreuke 16:1-26 DB

’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie. Alles wat ’n mens doen, lyk vir hom reg. Maar die Here weet waarom ons dit aanpak. Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer. Die Here het alles vir ’n doel gemaak, selfs die slegte mense se dag van oordeel. Die Here verag arrogante mense wat op ander trap. Hulle sal sekerlik nog gestraf word. Liefde kan skewe verhoudings weer regmaak. Respek vir mekaar laat ’n vriendskap blom. Liefde vir die Here hou ’n mens van die kwaad af weg. As die Here iemand liefhet, sal sy vyande dit raaksien. Hulle sal op goeie voet met hom wil wees. Liewer eerlik wees en min besit as ’n sak vol geld wat oneerlik verkry is. Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af. Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer. Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery. Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê. ’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer. Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken. Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense. Wie die Here volg, bly uit die moeilikheid. Wie gelukkig wil wees, sal versigtig leef. Wie dink hy is beter as ander, word verneder. Trots lei tot ondergang. Dit is beter om niks van jouself te dink nie en saam met die eenvoudiges te leef, as om baie geld te hê en saam met hoogmoediges te bly. Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig. Mense respekteer iemand wat wys leef. Iemand wat mooi praat, oortuig mense maklik. Vir iemand wat weet hoe om reg te leef is wysheid ’n onuitputlike bron van kennis. ’n Domme sal nooit leer nie. Hy sal altyd die verkeerde dinge doen. Soos ’n mens dink, praat hy ook. ’n Goeie spreker kan mense baie dinge leer. Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam. Soms lyk ’n lewenstyl goed en reg. Uiteindelik bring dit net ellende. Om te leef moet jy werk. Honger laat ’n mens werk soek.