Spreuke 16:1-26

Spreuke 16:1-26 AFR20

'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die HERE. Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou. Die HERE het sy doel met alles; selfs 'n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Afstootlik vir die HERE is elkeen met 'n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die HERE vermy 'n mens die kwaad. Wanneer die HERE tevrede is met 'n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 'n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as 'n groot inkomste verkry deur onreg. Die hart van 'n mens beplan sy pad, maar die HERE bepaal sy voetstappe. 'n Orakelspreuk is op die lippe van 'n koning; by 'n vonnis mag sy mond nie ontrou wees nie. 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal, is van die HERE; al die gewigte in die sak is sy handewerk. Afstootlik vir konings is die pleeg van 'n goddelose daad, want deur geregtigheid staan 'n troon vas. Regverdige lippe stel konings tevrede, en hulle het die een lief wat die regte dinge sê. Die woede van 'n koning is 'n boodskapper van die dood, maar 'n wyse mens bring dit tot bedaring. In die stralende gesig van 'n koning is daar lewe, en sy goedkeuring is soos die wolke van laatreëns. Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer. Die gebaande weg van opregtes is om weg te draai van die kwaad; wie sy lewe wil beskerm, gee ag op sy lewenspad. Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar 'n hooghartige gees. 'n Nederige gees saam met magteloses is beter as om buit te verdeel saam met hovaardiges. Wie hom toespits op 'n saak, sal sukses behaal, en wie op die HERE vertrou, is gelukkig. Wie wys van hart is, word verstandig genoem, en soetheid van lippe bevorder onderrig. Begrip is 'n bron van lewe vir die besitters daarvan, maar die vermaning van sotte is sotheid. Die hart van 'n wyse maak sy mond verstandig en bevorder die onderrig op sy lippe. Vriendelike woorde is 'n heuningkoek wat oorloop – soet vir die keel en helend vir die gebeente. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Die eetlus van 'n werker laat hom hard werk; ja, sy mond spoor hom aan.