Filippense 3:10-17

Filippense 3:10-17 DB

Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort. So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink. Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly. My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg.

Video vir Filippense 3:10-17