Filippense 2:1-18

Filippense 2:1-18 DB

As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra. Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop. Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en niemand kan ook belangriker as Hy wees nie. God self het so besluit. Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is. My liewe broers en susters, dit wat ek nou net gesê het, is belangrik. Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie! Onthou, God hou julle dop. Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke. Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk. Doen alles sonder om te kla of te stry. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie. Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.

Video for Filippense 2:1-18