Nehemia 1:4-10

Nehemia 1:4-10 DB

Toe ek hierdie slegte nuus hoor, het ek gaan sit en huil. Ek was so hartseer dat ek dae lank niks geëet het nie. Ek het tot die God van die hemel gebid. Ek het vir Hom gesê: “O Here, God van die hemel, U is groot. Almal sidder en bewe voor U. U is die God wat u ooreenkoms nakom teenoor almal wat U liefhet en doen wat U sê. U bly altyd lojaal teenoor almal wat U dien. “Sien my asseblief raak, Here. Ek is u dienaar. Luister na die gebed wat ek dag en nag tot U bid sonder om moeg te word. Ek bid vir u dienaars, die Israeliete. Ek bely dat ons almal teen U gesondig het. Ook ek en my familie het verkeerd gedoen. Ons het nie genoeg respek aan U bewys nie. Ons het nie geluister na die wette en die voorskrifte wat U aan u kneg Moses gegee het nie. “Dink asseblief aan wat U vir Moses gesê het: ‘As julle die rug vir My draai, sal Ek julle onder vreemde volke verstrooi. Maar as julle terugkeer na My toe en doen wat Ek van julle vra, sal Ek julle weer bymekaarmaak, ook al is julle oor die hele aarde verstrooi. Ek sal julle terugbring na dié plek toe waar Ek gekies het om aanbid te word.’ “Die Israeliete is tog u dienaars, u eie volk, wat U met u groot mag en krag verlos het.