Markus 14:66-72

Markus 14:66-72 DB

Terwyl Petrus so saam met die wagte in die agterplaas van die hoëpriester se huis gesit het, kom daar ’n meisie verby wat daar gewerk het. Toe sy by Petrus verbystap wat hom sit en warm maak by die vuur, steek sy vas en kyk mooi. “Jy is ook mos een van daardie groep mense wat agter die Nasarener, Jesus, aangeloop het,” sê sy. “Nee, ek is nie,” het Petrus dit dadelik ontken. “Ek het g’n idee waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie eens nie.” Toe staan hy op en gaan staan naby die hek. Net toe kraai die haan. Maar die meisie wou hom nie los nie. Sy sê vir die mense wat daar by die hek staan: “Ek is seker hierdie ou is een van die Nasarener se volgelinge.” Weer het Petrus dit heftig ontken. Daarna sê van die ander wat daar rondgestaan het: “Jong, jy lyk vir ons net soos een van hulle. Jy kom dan ook uit Galilea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy is: “Ek sweer ek ken nie eens hierdie man van wie julle so praat nie.” Juis toe kon ’n mens die haan ’n tweede maal hoor kraai. Petrus het dit ook gehoor en dadelik onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee maal kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy My nie eens ken nie.” Toe het hy bitterlik gehuil.