Markus 12:13-27

Markus 12:13-27 DB

Na ’n rukkie stuur hulle ’n paar mans na Jesus toe. Hulle was van die godsdienstige Jode uit die Fariseërs en van die ondersteuners van Herodes. Hulle moes Jesus probeer uitlok om iets verkeerds te sê wat hulle ’n rede sou gee om Hom te laat vang. Hulle het toe so begin: “Meneer, ons weet jy leer die mense baie dinge oor God. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy gee nie om wat hierdie of daardie belangrike mense van jou sê of dink nie, want vir jou is alle mense dieselfde. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Sê vir ons, dink jy dit is reg om so baie belasting aan die keiser te betaal? Moet ons hom belasting betaal of nie, want hy is mos ’n koning van ’n vreemde land wat net ons geld wil hê?” Jesus het goed geweet dat hulle ’n klomp tweegesigte was wat Hom wou uitvang. Hy vra hulle toe sommer reguit: “Vir wat probeer julle My uitvang? Bring asseblief vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting betaal sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe vir Hom so ’n geldstuk (want daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke en ’n mens kon nie almal vir belasting gebruik nie). Jesus vra toe: “Kyk mooi na die geld; wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier geskryf?” “Die keiser s’n,” sê hulle. “Nou ja,” antwoord Jesus, “as die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Maar onthou, julle is volgens God se beeld gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hulle het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was verstom oor die slim manier waarop Jesus hierdie moeilike vrae hanteer het. Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie. Hulle kom toe ook om Jesus uit te vra. “Ons sien jy leer die mense baie dinge oor God. Nou ja, Moses het vir ons geskryf dat as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, sy broer met sy weduwee moet trou. Hy moet dan ’n seun in sy broer se plek kry om te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Sê nou daar is sewe broers in ’n familie en die eerste een sterf voordat hy ’n kind kon kry. Volgens Moses se wet moet die tweede broer nou met die vrou trou. Sê nou hulle het ook nie kinders nie. So gaan dit met al sewe die broers. Uiteindelik is die vrou ook dood, sonder dat sy ’n kind gehad het. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, met watter man gaan hierdie vrou dan in die hemel getroud wees? Hier op aarde was sy mos met al sewe getroud.” Jesus sê toe: “Dit is nou ’n dom vraag. Julle ken nie julle eie Skrif nie en julle weet nog minder hoe sterk God regtig is. As die mense eendag uit die dood weer lewendig word, sal hulle nie meer trou nie. Hulle sal op dieselfde manier bestaan as die ander hemelse wesens wat natuurlik ook nie trou nie. Dit beantwoord nou julle vraag. Maar kom ons gesels ’n bietjie verder oor mense wat uit die dood gaan opstaan. Die Skrif vertel mos hoe Moses daar gestaan het by die bos wat so gebrand het en hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is nou nog die God van Abraham, ja, die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.”