Markus 12:13-27

Markus 12:13-27 AFR20

Hulle stuur toe sommige van die •Fariseërs en Herodiane na Hom, sodat hulle Hom op 'n woord kon vastrek. Hulle kom toe en sê vir Hom: “Meester, ons weet dat u opreg is en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar onderrig die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar om belasting aan die keiser te betaal, of nie? Behoort ons te betaal, of behoort ons nie te betaal nie?” Maar Jesus was bewus van hulle skynheiligheid en sê vir hulle: “Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe een. Hy vra hulle: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom. Die •Sadduseërs kom toe na Hom, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer sterf’ en 'n vrou agterlaat, ‘maar nie 'n kind nalaat nie, sy broer die vrou moet neem en 'n nageslag vir sy broer moet verwek’. Daar was sewe broers. Die eerste het 'n vrou geneem en by sy dood nie 'n nageslag agtergelaat nie. Die tweede het haar toe geneem en gesterf sonder om 'n nageslag agter te laat. Die derde net so. Nie een van die sewe het 'n nageslag agtergelaat nie. Laaste van almal het ook die vrou gesterf. By die opstanding, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “Is dit nie die rede waarom julle dwaal nie: omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie? Want wanneer hulle uit die dood opstaan, tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemele. En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes. Julle dwaal erg!”