Markus 1:15-34

Markus 1:15-34 DB

“Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.” Op ’n dag het Jesus langs die See van Galilea gestap. Daar kry Hy twee vissermanne wat besig was om hulle nette in die see te gooi. Dit was twee broers, Simon en Andreas. “Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ’n ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.” Hulle los toe alles net so en is saam met Hom. ’n Entjie verder sien hulle nog twee broers aan die werk om die nette reg te kry. Hulle was Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Jesus nooi hulle toe ook daar en dan saam. Sonder om te huiwer is hulle ook agter Jesus aan. Hulle pa, Sebedeus, en die mense wat vir hom gewerk het, het alleen in die boot agtergebly. Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor. Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is.