Markus 1:1-8

Markus 1:1-8 DB

Die goeie nuus oor Jesus begin met Johannes wat mense gedoop het. Daaroor het God se boodskapper Jesaja jare gelede al geskryf: “Ek stuur my boodskapper voor jou uit om alles reg te maak vir jou koms, sê God. In die wildernis skree iemand hard uit: Maak seker dat die pad reg is waarop die Here moet loop. Dit moet mooi gelyk wees.” Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry. Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.”

Video vir Markus 1:1-8