Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur.
“Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus. Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie.
Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie.
Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie. Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris. Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?” Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur. Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!”
Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word. Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” skreeu hulle.
“Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?”
“Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?”
Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!” Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak. Hy kry toe ’n bak water en was sy hande daar voor almal. “Ek wil niks meer met die saak te doen hê nie. Wat verder gebeur, is nie my skuld nie. Gaan doen julle nou wat julle wil.”
Die hele volk roep daarop: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal die verantwoordelikheid dra, ons en ons kinders!”
Pilatus het Barabbas losgelaat en Jesus laat gesel. Daarna het hy gesê dat hulle Jesus maar kon kry om Hom te kruisig.
Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan.
Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
Hulle het Jesus toe daar gekruisig.
Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom.
Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.
Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker. Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?”
Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!” Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok. “Wag so ’n bietjie,” sê ’n ander, “laat ons kyk of Elia hom nie dalk sal kom afhaal nie.” Al wat egter gebeur het, was dat Jesus hard geskreeu het en toe dood is.
Net toe het die gordyn wat die vertrekke in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel. Grafte het oopgegaan en baie gelowige mense wat reeds begrawe was, het uit die grafte gekom. Hulle is Jerusalem in. Daar het baie mense hulle gesien.
Die offisier en die ander soldate wat daar by die kruis diens gedoen het, het hierdie aardbewing en al die ander dinge wat gebeur het, staan en bekyk. Dit het hulle baie bang gemaak. “Hy was sowaar die Seun van God,” het hulle gestamel. Heelwat vroue het op ’n afstand gestaan en kyk. Hulle het Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, asook die ma van die Sebedeus-broers.
Dit het al laat begin word. ’n Ryk man, Josef van Arimatea, wat ook ’n volgeling van Jesus was, het daar aangekom. Hy het vir Pilatus die liggaam van Jesus gaan vra. Pilatus het beveel dat die liggaam vir hom gegee moes word.
Josef het die liggaam in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe. Die graf het aan hom behoort. Dit was ’n nuwe graf wat hy self in die rots laat uitkap het. Omdat die graf byna soos ’n grot was, het hy ’n groot rots voor die ingang gerol. Daarna is hy weg. Maria Magdalena en die ander Maria het egter voor die graf bly sit.
Die volgende dag, net na die voorbereidings vir die paasfees, is die Joodse leiers en die Fariseërs na Pilatus toe. “U Edele,” het hulle gesê, “iets het ons intussen bygeval. Toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy beweer dat hy na drie dae uit die dood opgewek sal word. Wees asseblief so vriendelik om opdrag te gee dat die graf drie dae lank goed opgepas word. Sy dissipels sal hom dan nie kan kom steel en die storie vir almal vertel dat hy uit die dood opgewek is nie. So ’n storie sal baie erger wees as die een dat hy opgewek gaan word!”
Pilatus sê vir hulle: “Nou maar goed; julle het julle wagte. Gaan pas die graf so goed op as wat julle kan.” Hulle is toe daar weg om die graf te gaan oppas. Hulle het nie slegs die ingang met die klip toegemaak nie, maar ook wagte daar gelos.