Matteus 27:11-26

Matteus 27:11-26 DB

Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur. “Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus. Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie. Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie. Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie. Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris. Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?” Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur. Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!” Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word. Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” skreeu hulle. “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?” “Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?” Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!” Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak. Hy kry toe ’n bak water en was sy hande daar voor almal. “Ek wil niks meer met die saak te doen hê nie. Wat verder gebeur, is nie my skuld nie. Gaan doen julle nou wat julle wil.” Die hele volk roep daarop: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal die verantwoordelikheid dra, ons en ons kinders!” Pilatus het Barabbas losgelaat en Jesus laat gesel. Daarna het hy gesê dat hulle Jesus maar kon kry om Hom te kruisig.