Teen sononder het die paasete begin. Jesus en al twaalf sy getrouste volgelinge was daar. Terwyl hulle nog so sit en eet, sê Jesus: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê: een van julle wat hier sit, gaan My in die rug steek.”
Toe hulle dit hoor, was hulle baie hartseer en hulle oorval Jesus met vrae. “Dit is seker darem nie ek nie, nie waar nie, Here?” wou elkeen weet. Jesus sê toe: “Kyk maar, die verraaier is die een wat sy hand ook in die bak insteek om kos te vat wanneer Ek dit doen. Ja-nee, aan die een kant is dit nodig dat die Seun van God sterf. Die Skrif skryf daarvan. So is dit bestem.
“Maar aan die ander kant bly die verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Seun van die mens. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai, vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?”
“Net so!” antwoord Jesus hom.
Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan.
“Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.”
Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe.
Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos:
‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’
“Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.”
Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.”
“Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.”
“Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê.
Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.” Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat.
Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.”
Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie? Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.”
’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!” Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.”
Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang.
Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.”