“Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei. Hy sal die een groep regs van Hom laat staan en die ander groep aan sy linkerkant.
“Die Koning sal dan na die mense regs van Hom draai. ‘Staan nader, want my Vader is baie tevrede met julle. Heel van die begin af het Hy die hemel vir mense soos julle reggemaak. Hy wil hê dat julle dit saam met Hom moet kom geniet. Maar weet julle waarom God so tevrede met julle is? Laat Ek julle vertel. Ek het niks gehad om te eet nie, maar julle het My kos gegee. Toe Ek dors was, was julle daar met ’n glas water. Toe Ek nog vir julle ’n onbekende was, het julle My al in julle huise verwelkom en selfs slaapplek gegee. Julle het vir My klere gegee toe Ek niks gehad het om aan te trek nie. Op my siekbed het julle My geduldig versorg. Toe Ek in die tronk beland het, het julle julle nie vir My geskaam nie, maar vir My kom kuier.’
“Die mense wat reg gelewe het, onderbreek Hom: ‘Here, wag so ’n bietjie. Waarvan praat U? Wanneer het ons U kos gegee toe U honger was of ’n glas water toe U dors was? Ons kan nie onthou dat ons ooit vir U klere of blyplek gegee het nie. Help ons, asseblief, ons verstaan nie mooi nie. Wanneer was U siek of in die tronk en het ons U gehelp?’
“Die Koning op die troon antwoord: ‘Wil julle regtig weet wanneer julle hierdie dinge vir My gedoen het? Luister dan goed: elke glas water of stukkie brood wat julle aan ’n broer van My gegee het, het julle eintlik aan My gegee. Wie my vriende help, al is hulle hoe onbelangrik, help My.’
“Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom? Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’
“Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’
“Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’