Matteus 25:14-21

Matteus 25:14-21 DB

“Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’