Matteus 21:12-15

Matteus 21:12-15 DB

In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’” Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak. Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 21:12-15