Matteus 2:16-23

Matteus 2:16-23 DB

Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.) So het die woorde van Jeremia ook waar geword: “In Rama het die mense ’n harde stem gehoor. Dit klink soos iemand wat verskriklik huil. Dis Ragel! Sy huil oor al haar kinders. Niemand kan haar troos nie, want haar kinders is dood.” Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.” Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe. Daar aangekom, het hy gehoor dat Herodes se seun Argelaus die nuwe koning van Judea was. Hy was toe skrikkerig om daar te gaan bly. Terwyl Josef nog wonder wat hy moes doen, het hy weer in ’n droom ’n boodskap van God af gekry, hierdie keer om na die gebied van Galilea toe te gaan. Daar het Josef en sy gesin in ’n dorpie met die naam Nasaret gaan bly. So het die profete se woorde waar geword dat die Verlosser ’n Nasarener genoem sou word.