Matteus 2:13-16

Matteus 2:13-16 DB

Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.)