Matteus 11:27-30

Matteus 11:27-30 DB

Na die gebed gesels Jesus toe verder met die mense: “My Vader het My gevra om al hierdie dinge op die aarde te kom doen. Hy het ook vir My alles gegee wat Ek nodig het om dit wel te kan doen. Ek en my Vader het geen geheime vir mekaar nie. Ons ken mekaar deur en deur. Niemand ken Ons soos Ons mekaar ken nie. Wil julle die Vader so leer ken? Ek kan julle aan Hom voorstel. “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. “Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid