Matteus 11:20-24

Matteus 11:20-24 DB

Iets anders het Jesus ook gepla. In sekere dorpe het Hy baie gepreek en ook baie wonderlike dinge daar gedoen. Eintlik kon die mense nie oor sy wonderkrag twyfel nie. Ten spyte van dit alles het hulle bloot hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Dit het Jesus ontstel: “Gorasin, Betsaida, julle is soos mense wat met die volgende tree by ’n vernietigende afgrond gaan afstort en julle gee nie eens om nie. Weet julle, as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het, was hulle binne sekondes op hulle knieë voor My. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad. “Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref. “Mense van Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering! Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek. Julle onthou mos nog hoe daardie sondige stad Sodom deur God vernietig is? Wel, sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het wat Ek by julle gedoen het. Weet julle, hulle sou hulle lewe so vinnig verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie. Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie.”

Video vir Matteus 11:20-24