Daarna het Jesus alleen gaan bid. Net die twaalf dissipels was by Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wie sê hulle is Ek?”
“Johannes die Doper,” het hulle dadelik geantwoord. “Of Elia. Ja, selfs een van die profete uit die ou dae wat weer lewendig geword het.”
“En julle?” vra Jesus vir hulle. “Wie sê julle is Ek?”
Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Een wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Messias.”
“Julle mag dit vir niemand gaan vertel nie,” het Jesus gesê. “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”
Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe.
“As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd.
“Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.”
Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander. Jesus se klere het ook helderblink begin skitter. Twee mans het skielik aan Hom verskyn. Dit was Moses en Elia. Hulle was self met glans omring. Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag.
Intussen was Petrus en die ander twee dissipels vas aan die slaap. Toe hulle wakker word, sien hulle dat Jesus omring is met ’n hemelse heerlikheid en ook hoe Moses en Elia met Hom praat. Terwyl die dissipels nog oorbluf na die toneel voor hulle staan en kyk, het Moses en Elia gereedgemaak om te vertrek. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis goed dat ons ook hier is. Nou kan ons gou drie tente maak, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Die arme Petrus het natuurlik nie ’n benul gehad wat hy sê nie.
Petrus se woorde was skaars koud, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle almal. Die dissipels het baie bang geword toe hulle sien hoe die twee mans in die wolk instap. Skielik praat ’n stem uit die wolk. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het om my werk hier op die aarde te kom doen. Luister na Hom.”
Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie.
Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag. ’n Man daar in die skare het skielik hard uitgeroep: “Goeie Leermeester, ek smeek U, help my seun, asseblief. Hy is my enigste kind. En hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.”
Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.”
Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.”
Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee.
Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê.
Tussen al die opgewondenheid deur het Jesus vir sy dissipels gesê: “Onthou baie goed wat vandag hier gebeur het, want dit gaan nie altyd so maklik wees nie. Binnekort gaan die mense My vang en My soos ’n misdadiger behandel.”
Die dissipels het egter nie verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie. Hulle was ook te bang om te vra wat Hy bedoel. Maar dit was in elk geval nog nie die regte tyd vir hulle om te weet wat alles op Hom wag nie.
Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur.
“Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.”
Terwyl Jesus nog besig was om te praat sê Johannes, een van sy dissipels, vir Hom: “Here, party mense wat ons nie eens ken nie dryf deesdae al duiwels in u Naam uit. Ons het nou die dag op so iemand afgekom wat besig was om ’n duiwel in u Naam uit te dryf. Ons het hom dadelik verbied om dit te doen. Want hy is nie ’n volgeling van U nie.”
“Moenie hom keer om dit te doen nie,” het Jesus dadelik geantwoord. “Want mense wat sulke dinge doen, is tog nie julle vyande nie. Hulle staan ten minste nie aan die duiwel se kant nie.”