Lukas 6:6-23

Lukas 6:6-23 DB

Op ’n ander sabbatdag het Jesus na ’n Joodse sinagoge toe gegaan waar die mense bymekaargekom het om God te dien. Hy het hulle daar geleer. Daar was ’n man wie se regterhand heeltemal misvorm was. Dit was ineengetrek sodat hy dit glad nie kon gebruik nie. Die skrifkenners en die Fariseërs het Jesus fyn dopgehou. Hulle wou sien of Hy dit sou waag om iemand op die sabbat gesond te maak sodat hulle Hom kon aankla dat Hy God se wet oortree. Jesus het geweet hulle hou Hom dop, maar Hy het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het vir die man met die misvormde hand gesê: “Kom staan hier!” Die man het dadelik opgestaan en na Jesus toe gekom. Toe vra Jesus vir die godsdienstige leiers: “Sê ’n bietjie vir My: Moet ’n mens op die sabbat goed doen, of moet ’n mens slegte dinge doen? Moet ’n mens iemand anders se lewe red, of moet jy hom doodmaak?” Jesus het om Hom gekyk, maar niemand het dit gewaag om iets te antwoord nie. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen. Dit was gesond, so goed soos nuut. Die godsdienstige leiers was briesend daaroor. Dadelik het hulle begin planne maak hoe hulle van Hom ontslae kon raak. Kort daarna het Jesus een aand teen ’n berg opgeklim om te gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Die volgende dag het Jesus sy volgelinge na Hom toe geroep. Hy het toe twaalf van hulle uitgekies. Hierdie twaalf mans het Jesus sy apostels genoem, sy spesiale verteenwoordigers. Hulle name is: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem), Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai). Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid