Lukas 23:26-49

Lukas 23:26-49 DB

Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.” ’n Groot skare het ook agter Jesus aangestap. Baie vroue het hardop gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julle stad. Want vir julle en julle kinders gaan dit bitter swaar wees hier. Daar sal tye kom dat die mense sal sê: ‘Hoe gelukkig is daardie vroue wat nie kon kinders hê nie.’ Hulle sal dan die berge smeek: ‘Steek ons weg! Gee vir ons ’n plek waar ons veilig is teen ons vyande!’ En vir die heuwels: ‘Maak ons toe sodat hulle ons nie kan raaksien nie!’ Kyk, as Jerusalem se mense bereid is om My dood te maak, moet hulle niks goeds te wagte wees nie. Jerusalem is soos ’n klomp dooie takke wat op ’n hoop lê. Al wat nog oorbly, is dat hulle aan die brand gesteek moet word.” Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek. Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.” Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. “Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!” Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Later het een van die terroriste wat saam met Jesus gekruisig is ook met Hom begin spot: “Nou toe, waarvoor wag jy? As jy regtig die Messias is, kry ons hier af!” Die man aan die ander kruis het hom egter gou stilgemaak. “Het jy g’n respek vir God nie? Jy staan nou onder sy oordeel! Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers. Maar hierdie Man het net mooi niks verkeerds gedoen nie.” Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag, Here, sal U asseblief aan my dink wanneer U daar in God se woonplek aankom?” “Ek het baie goeie nuus vir jou,” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys toe. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak.” Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!” Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid