Lukas 22:54-62

Lukas 22:54-62 DB

Die mense het Jesus gevange geneem. Van daar af is hulle met Hom reguit na die hoëpriester se huis toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy het gesien dat ’n klompie mense ’n vuur daar in die agterplaas gemaak het om hulle warm te hou. Hy het toe tussen hulle gaan sit. Een van die vroue wat in die hoëpriester se kombuis werk, het hom dadelik herken. Sy sê vir die ander: “Ek het daardie man al saam met Jesus van Nasaret gesien. Hy is een van sy vriende.” Maar Petrus het dit dadelik ontken en gesê: “Vroumens, jy maak ’n groot fout! Ek en daardie man is glad nie vriende nie.” ’n Rukkie later het iemand anders ook vir Petrus herken en vir hom gesê: “Maar jy is dan een van die volgelinge van daardie Jesus!” “Kyk, jy’s heeltemal laf!” het Petrus vinnig gereageer. ’n Uur of wat later het nog iemand vir die ander mense gesê: “Sowaar, daardie man is ook ’n volgeling van daardie man van Nasaret. Luister net na sy aksent. Hulle klomp daar in Galilea sê mos sekere woorde anders as ons hier in Judea.” “Hoor hier, ek was nog nooit eens naby Hom nie,” het Petrus geantwoord. Terwyl hy nog praat, het ’n haan iewers in die vroeë oggendure gekraai. Jesus het geweet dat Petrus so ’n entjie van Hom af tussen die mense staan. Die Here draai toe om en kyk hom stip in die oë. Toe tref die Here se woorde van vroeër die aand vir Petrus soos ’n voorhamer: “Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Petrus het toe in die donker ingehardloop en bitterlik gehuil.