Lukas 22:39-45

Lukas 22:39-45 DB

Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry.