Lukas 2:25-34

Lukas 2:25-34 DB

Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê: “Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.” Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid